Monday 14 September 2015

Aktief

2 Maande is agter die rug, en my plan om soggens in die gym te verkeer voor ek regmaak vir skool het wel, nooit gebeur nie. Die afgelope naweek het ek dit goed gedink om wel die tekke af te stof en die tog gym toe aan te pak. Dis nou nie asof hierdie tog 3 dae te perd is of te ver om te ry en te naby om te loop is nie, nee. Glad nie! Luiheid was hier die rede. Wel, in all fairness, luiheid en die feit dat proef, sêr, koor, skoolgee, drama en oudisies bietjie van my tyd opgevat het. Nou sit ek met arms wat nie reguit kan oopmaak nie, wat beteken dat as ek staan lyk ek soos n bulldog.
Hierdie inskrywing handel oor 'n aktiewe en produktiewe naweek.

Ek was nou nog nooit een om Facebook updates te maak oor gym sessies of foto's op te laai oor my "progress" nie. Ek moet bieg dat SOU die dag kom dat ek n before en after foto kan oplaai, sal ek nie skroom om dit te doen nie. Soos iemand al vir my gesê het: "ek werk hard om so te lyk, ek sal sonder 'n hemp loop". Nou ja toe. Daar het jy dit. Die afgelope naweek het ek 'n paar goed gesien wat eerder moes gebly het en ek kan nou sommer julle ook waarsku dat die manne regmaak vir somer, Stilbaai gaan weer bewe onder die spiertiere!

Die eerste keer in my lewe het ek twee bodybuilders gesien in die gym. So, terwyl ek op die treadmill stap - wat uitkyk oor die gym, wat my 'n lieflike 180 grade gee van waarneming - gewaar ek dié twee. Wat my effens ontstel het was dat die een sulke twee ongemaklik knoppe op sy skouers het. Vir die gewone mens mag dit lyk soos goed geoefende skouers, maar vir my, nee. Dit lyk asof dit groeisels kan wees, aangesien dit sy kop nog kleiner laat lyk. Ek moet hom wel komplimenteer dat daar verder goeie balans tussen bolyf en bene is. My tweede gril het gekom toe ek die man se partner sien. Ek kon eers nie verstaan hoekom die outjie so aansienlik kleiner is as die bul nie, totdat ek die rompie gewaar het...ja, dit was 'n vrou. Dit alles was wel vermaaklik deur te sien hoe hulle tussen oefeninge poseer voor die spiel. Nee, ek is nie jaloers nie. Ek het ook besef dat soos ons as akteurs ook maar oefen, moet die skepsels ook werk aan hulle voorkoms aangesien dit hulle passie is.Of mens 'n loopbaan daaruit kan maak, weet ek nie. Ek sal Google maar raadpleeg en uitvind.

Op die sewende dag betree ek toe weer die gym...die keer, links agter my gewaar ek iemand geklee in swart...op 'n treadmill...skat haar so 50, wag daarvoor...sonder 'n bra. Ja dames, ons kan sien wanneer die susters te veel skud. En alhoewel dit moontlik vir ander hope plesier kon verskaf was dit vir my nou nie juis aangenaam nie. Ek het so gehoop dat sy, soos meeste, haar laaste 10minute op die apperaat gaan voltooi en gaan...maar nee...toe ek weer sien stap sy en haar suster oor na 'n volgende masjien...teen die tyd maak ek my laaste 5minute klaar en gaan na onder na die ander gewig apperate. Ek kon nie meer nie.

Basiese etiket tel orals, maak nie saak van die venue nie.

Dis nou my sesde jaar in Stellenbosch. Ek dreig al jare om die Jonkershoek roete te gaan stap. So besluit ek en Nina om aktief te wees en dit te gaan doen. R50, 5km en 'n drawwende oom wat water afslaan langs die pad, later is ons by die parkeerarea. Alhoewel ons 'n padkaart gehad het, was dit nie juis maklik om die eerste ingang te kry. Ek sal weer R50 betaal as daar bietjie beter aanwysings aangebring word. Genade.

Uiteindelik betree ons die uitgelegde padjie. En nadat Nina, wat voorloop, so paar keer die Nasionale blom op my Nasionale voël geklap het, kom ons by die eerste waterval. Mooi. Alhoewel ek oortuig was dat dit die twee waterval was, want ons het aan die begin so klein poeperige waterval gesien. So, vat ons weer die pad...

Soos ons loop, kom ons af op twee vroue. Soos ons Afrikaansprekendes mos nou maar is, praat mens mos Engels tot die ontvanger die swaar Afrikaanse aksent hoor en die gesprek dan voortsit in Afrikaans. Met die liefde in ons hart en opgewondenheid in ons stem, vra ons uit oor hoe ver die tweede waterval is. Hulle reaksie het meer waarskuwings ingehou as aanmoediging: as julle hoogtevrees het, sterkte. Daar is 'n plat klip as julle moeg is. Wees versigtig vir die grot gedeelte.
Nou maar goed, 20 minute later betree ons toe die waters van die waterval...na ons moes klouter oor rotse, deur koue water en oor bome.
Vind ons toe rustigheid. Kalmte. Vrede.

Dit wys jou net, deur 'n bietjie aktief te wees, brand jy nie net kalorië nie, maar kan 'n mens vrede vind saam 'n sielsvriendin.







Friday 11 September 2015

Samoosa

Ek wil eerstens begin deur net te noem dat ek werklik geen idee het waar die taalfunksie is nie, en tweedens dat spellcheck my lelik in die steek laat deur woorde te verander na hul Engelse maatjie. Not nice. So, byt maar op jou vinger, potlood, begin jou hare uitpluk of kneus die persoon langs jou stadig, ek kan nou eerlik nie help vir taalfoute nie. Deal with it, asb.

My proeftydperk is nou amper in die laaste pylvlak...uiteindelik. Moet my nie verkeerd verstaan nie, ek geniet die skool. Dis die vroeg opstaan wat my nou begin vang. Oh! en dat my vriende met vakansie is (wees trots julle taal fundi's! ek het gese met en nie op nie). Kyk, as jou ma ooit vir jou se "my kind, word eerder n prokureur of dokter". Luister vir haar. Skool is beslis rof. Ek verwys nou nie na die leerders nie, die is van nature rof. Met hulle hormone wat teen die mure drip, ongeskikte aanmerkings en die af en toe boelie, is die uitkoms nou nie juis die van n opknappingskool nie. Nee! As ek se skool is rof verwys ek meer na die admin. Wow. Wanneer het n skool n mini besigheid geword?
Finansiele beampte, hoof van bemarking, leier van dit en portefeulje van dat. Dan wil dit voorkom asof leerders gekeur moet word om toelating. Stom. "Jammer mevrou, maar ons moet kyk na *** se punte voor toelating oorweeg kan word", want behoed dat *** swak vaar op skool, want dan raak dit die skool se slaagsyfer in matriek.

Dan verdien die WKOD (Wes-Kaapse Onderwys Dept) om genoem te word. Kyk, in baie provinsies gaan dit sleg, maar in die Republiek van die Wes-Kaap kan ons werklik nie kla nie. Of probeer om minder te kla (dit bly immers n nasionale instelling). Die arme opvoeders moet gereeld vir opleiding gaan: dan vir rekenaars, dan moet almal in n ding met wiele gelaai word om te gaan registreer vir iets anders. Elke oggend moet ons 5 arme proefstudente dit aanhoor wat die dept. nou weer laat weet het: eers word die ANNAS (of so iets) geskryf, dan word dit die volgende dag afgestel weens vraestelle wat besaai le in een of ander kantoor erens.

Vir die van julle wat nie weet nie, soos enigiets in die lewe, gaan die onderwys oor beplanning, en as jy die tipe mens is wat nie kan beplan nie moet jy 1) eerder my unfriend op Facebook en 2) die onderwys glad nie oorweeg nie. Dinge kan binne n paar uur verander. Wel van die dept se kant af. Binne die skool opset, kan dinge in n oogwink verander. Sarel slaan vir Karel, dan kry hy n aantekening op een of ander bladsy. Of, Sarel se ouers word gekontak. En moenie kommer nie, as niemand dit gesien het nie, kan ons altyd gaan kyk na die CCTV materiaal. Smile! Gevang!

En deur dit alles sit ek rustig, neem ek alles waar, en eet my R5 beef samoosa. Want dis lekker.

Friday 4 September 2015

Wanted

Ek was onlangs bevoorreg om my eerste pantomime oudisie by te woon. Soos meeste seker teen die tyd weet, is my mantra (of ten minste een van my mantras) "dis die klein dingetjies wat saakmaak". So, een van daardie klein dingetjies is in die vorm van n e-pos wat lui: "you've been requested to audition for...". Daardie paar woorde sal enige persoon se selfbeeld n hupstoot gee. Shame.
Nadat ek wanted gevoel het vir so twee dae, het ek begin voorberei vir die groot dag. Indien van julle nie weet nie, die proses werk as volg:

Jy ontvang n brief deur jou agentskap/manager waarop al die inligting aangaande die produksie (wie,wat,waar en wanneer) verskyn.
Dan word daar mooi uiteengesit wat van jou as kunstenaar verwag word om voor te berei. In die geval van n pantomime is dit n musiekstuk in die musiekteaterstyl, asook die afle van n dans oudisie. Dum-dum-dummmm...

Nou, laasgenoemde is maar n teerpuntjie aangesien jy moet meeding met professionele dansers. So, vanaf die tyd wat ek daar aankom vir die oudisie, tot net voor ek loop, sit ek met n moddemagie as gevolg van spanning, en om ander te hoor se "ja, I just finished with West Side Story and doing Sweeney Todd later this year", help nou glad nie die saak nie. Inteendeel moet pollie meer knyp. Dansers se nonchalant houding is eintlik fantasties. Kyk, as die land regeer kon word deur n dansende party,sou die land flureer. Die eintlike rede is maar net dat hulle ongelooflike selfvertroue het. En goeie postuur. En n goeie figuur...need I go on. Vir n danser, is geen danspassie te moeilik nie. Vir ons as leuke, is dit n ander storie. Tydens die oudisie het n nie-so-dierbare danser van ons onder sy vlerk geneem so tussen sessie om oor die passies te gaan. Tot nou toe weet ek nie wat my die meeste van hom gepla het nie. Eerstens dra hy n wifey (ook geken as wife beater of vest), waar die tepels koekeloer aan weerskante aangesien hy dit goedgedink het om die kledingstukkie nog kleiner te knip. Tweedens het hy ongelooflike selfvertrou gehad. Dalk te veel. Maar Tepel, saam met die ander professionele dansers is toe beide rondtes deur...asook, wag daarvoor...ek! Take that Tepel!

Nou, nou sit en wag ek maar om te hoor of ek n callback gekry het vir die panto. En verder gaan die lewe maar aan. Die dansers dans hulle harte uit en bou aan hulle figure in die gym. En ek? Ek sit in n klaskamer vanaf 08:00 tot 14:20 en kyk hoe die toekoms van ons land leer oor direct en indirect speech en pouse eet ek my regular, n samoosa.