Monday 14 September 2015

Aktief

2 Maande is agter die rug, en my plan om soggens in die gym te verkeer voor ek regmaak vir skool het wel, nooit gebeur nie. Die afgelope naweek het ek dit goed gedink om wel die tekke af te stof en die tog gym toe aan te pak. Dis nou nie asof hierdie tog 3 dae te perd is of te ver om te ry en te naby om te loop is nie, nee. Glad nie! Luiheid was hier die rede. Wel, in all fairness, luiheid en die feit dat proef, sêr, koor, skoolgee, drama en oudisies bietjie van my tyd opgevat het. Nou sit ek met arms wat nie reguit kan oopmaak nie, wat beteken dat as ek staan lyk ek soos n bulldog.
Hierdie inskrywing handel oor 'n aktiewe en produktiewe naweek.

Ek was nou nog nooit een om Facebook updates te maak oor gym sessies of foto's op te laai oor my "progress" nie. Ek moet bieg dat SOU die dag kom dat ek n before en after foto kan oplaai, sal ek nie skroom om dit te doen nie. Soos iemand al vir my gesê het: "ek werk hard om so te lyk, ek sal sonder 'n hemp loop". Nou ja toe. Daar het jy dit. Die afgelope naweek het ek 'n paar goed gesien wat eerder moes gebly het en ek kan nou sommer julle ook waarsku dat die manne regmaak vir somer, Stilbaai gaan weer bewe onder die spiertiere!

Die eerste keer in my lewe het ek twee bodybuilders gesien in die gym. So, terwyl ek op die treadmill stap - wat uitkyk oor die gym, wat my 'n lieflike 180 grade gee van waarneming - gewaar ek dié twee. Wat my effens ontstel het was dat die een sulke twee ongemaklik knoppe op sy skouers het. Vir die gewone mens mag dit lyk soos goed geoefende skouers, maar vir my, nee. Dit lyk asof dit groeisels kan wees, aangesien dit sy kop nog kleiner laat lyk. Ek moet hom wel komplimenteer dat daar verder goeie balans tussen bolyf en bene is. My tweede gril het gekom toe ek die man se partner sien. Ek kon eers nie verstaan hoekom die outjie so aansienlik kleiner is as die bul nie, totdat ek die rompie gewaar het...ja, dit was 'n vrou. Dit alles was wel vermaaklik deur te sien hoe hulle tussen oefeninge poseer voor die spiel. Nee, ek is nie jaloers nie. Ek het ook besef dat soos ons as akteurs ook maar oefen, moet die skepsels ook werk aan hulle voorkoms aangesien dit hulle passie is.Of mens 'n loopbaan daaruit kan maak, weet ek nie. Ek sal Google maar raadpleeg en uitvind.

Op die sewende dag betree ek toe weer die gym...die keer, links agter my gewaar ek iemand geklee in swart...op 'n treadmill...skat haar so 50, wag daarvoor...sonder 'n bra. Ja dames, ons kan sien wanneer die susters te veel skud. En alhoewel dit moontlik vir ander hope plesier kon verskaf was dit vir my nou nie juis aangenaam nie. Ek het so gehoop dat sy, soos meeste, haar laaste 10minute op die apperaat gaan voltooi en gaan...maar nee...toe ek weer sien stap sy en haar suster oor na 'n volgende masjien...teen die tyd maak ek my laaste 5minute klaar en gaan na onder na die ander gewig apperate. Ek kon nie meer nie.

Basiese etiket tel orals, maak nie saak van die venue nie.

Dis nou my sesde jaar in Stellenbosch. Ek dreig al jare om die Jonkershoek roete te gaan stap. So besluit ek en Nina om aktief te wees en dit te gaan doen. R50, 5km en 'n drawwende oom wat water afslaan langs die pad, later is ons by die parkeerarea. Alhoewel ons 'n padkaart gehad het, was dit nie juis maklik om die eerste ingang te kry. Ek sal weer R50 betaal as daar bietjie beter aanwysings aangebring word. Genade.

Uiteindelik betree ons die uitgelegde padjie. En nadat Nina, wat voorloop, so paar keer die Nasionale blom op my Nasionale voël geklap het, kom ons by die eerste waterval. Mooi. Alhoewel ek oortuig was dat dit die twee waterval was, want ons het aan die begin so klein poeperige waterval gesien. So, vat ons weer die pad...

Soos ons loop, kom ons af op twee vroue. Soos ons Afrikaansprekendes mos nou maar is, praat mens mos Engels tot die ontvanger die swaar Afrikaanse aksent hoor en die gesprek dan voortsit in Afrikaans. Met die liefde in ons hart en opgewondenheid in ons stem, vra ons uit oor hoe ver die tweede waterval is. Hulle reaksie het meer waarskuwings ingehou as aanmoediging: as julle hoogtevrees het, sterkte. Daar is 'n plat klip as julle moeg is. Wees versigtig vir die grot gedeelte.
Nou maar goed, 20 minute later betree ons toe die waters van die waterval...na ons moes klouter oor rotse, deur koue water en oor bome.
Vind ons toe rustigheid. Kalmte. Vrede.

Dit wys jou net, deur 'n bietjie aktief te wees, brand jy nie net kalorië nie, maar kan 'n mens vrede vind saam 'n sielsvriendin.







No comments:

Post a Comment